Koeksisters, VLU (Vroue Landbou-unie), tuisbly, koeimelk en boerekos. Dié woorde is sinoniem met boervrou wees. Of dis wat sy gedink het. SARIE-leser Milanie Stadler verklap hoe haar persepsie verander het die dag toe sy met ’n boer getrou het.
Ek het grootgeword op ’n wildsplaas en was grootliks blootgestel aan die toerisme-industrie. Gevolglik was dit wat ek van landbou geweet het gevaarlik! Ja, om met ’n boer te trou was nog nooit op my doenlysie nie.
Daar is ’n gewilde sê-ding wat gereeld saam met landskapfoto’s op sosiale media pronk: “My lewe begin waar die teerpad eindig.” Ek het geglo as ek met ’n boer trou, sou my lewe net mooi daar eindig waar die grondpad begin. Só ver verwyderd van alles en almal op ’n plaas, waar daar geen geleenthede of vooruitgang vir ’n vrou is nie.
Maar toe ek vir Ernst, die jong boer van Reitz, ontmoet het, het hy die hele appelkar van my sienings en wanindrukke kom omgooi.
Die koeël was deur die kerk. Ons verhouding was skaars uit die blokke uit, toe verskeie mense die Leviete vir my voorlees oor wat ek eerder behoort te wees en wat als kamstig op my wag as boervrou. Ek sou my kleredrag moes verander, drome opsy skuif en ’n huisvrou word. En die feit dat ek plaas toe moes trek, het groot simpatie ontlok … so amper asof ek verhuis na ’n ver en vreemde land.
Party dae het die reaksies my begin vang, maar Ernst het my gereeld gerusgestel dat sy siening nie ooreenstem met die verwagtinge van ander mense nie. Ek moes myself herinner dat die mag om geleenthede te skep in my eie hande lê. Hierdie kopskuif het dié geleenthede laat realiseer.
Nou, sewe jaar later, is ons steeds gelukkig getroud. Ek bly al vir twee en ’n half jaar op die platteland. Om ’n boervrou te wees, is net een van vele rolle wat ek vervul. Ek het steeds ’n voltydse werk as bemarkingsbestuurder. As voorkomskonsultant herinner ek vroue aan hul eie waarde en ek het onlangs ’n besigheid vir gesondheidsprodukte saam met my beste vriendin op die been gebring.
Die moderne boervrou kan wees net wat sy wil: ’n Kunstenaar, skrywer, stilis, entrepreneur, model, influencer of selfs ’n aktrise. Sy kan ’n tuisteskepper wees, kinders grootmaak, die plaaslewe geniet, haar man ondersteun én betrokke by die boerdery wees.
My identiteit is nie verander deur die plek waar ek myself gevestig het nie óf my man se beroep nie. Inteendeel ek is verryk met nuwe perspektief en ongelooflike geleenthede van groei. Ek is duidelik bewus van die lewensdoel wat ek moet vervul en kan dit hier ten volle uitleef met die ondersteuning van my man en ’n ongelooflike gemeenskap. En dit alles ver van die stad se gedruis.
Ek wou met hierdie fotosessie die wanpersepsies oor boervroue in die kiem smoor. My drome is nie beperk deur my skuif na die plaas toe nie, dis eerder vergroot!
Ernst skud soms sy kop as ek met ’n nuwe idee vorendag kom, maar tog glo hy altyd in my planne en ondersteun my om dit suksesvol uit te voer. Van boomplant-dae, voelgoed-wegbreke, fondsinsamelings tot gestileerde fotosessies en vrouedae.
Onthou, jy is in beheer van jou eie realiteit en as dit nie daar is nie, kan jy dit sélf skep!
Ek weet wat dit waarlik beteken om ’n boervrou te wees en dat dit nie vir almal dieselfde hoef te wees nie. En as iemand my vrae of ek ietsie het om myself meer besig te hou op die plaas, lag ek net. Mense gaan nooit noodwendig weet wat jou boervrou-realiteit is nie en dis ook reg. Jy kan net wees wie jy is en ’n verskil maak waar jy kan. En as dit op die ou end nie in daai boksie pas van wat mense verwag en dink nie, dan het dit niks met jou te doen nie.